Ek pak so ‘n maand gelede my kaste reg en kom op ons boks foto’s af. Snaaks hóe jou boks foto’s al hoe groter raak na jy getroud is. Ek bedoel, dit is nou jou én jou man se kinderjare se kiekies, en dan met die jare word die boks nog voller van julle lewe saam – die boks self vertel eintlik die storie. Ek belowe myself elke jaar om my foto’s uit te sort en in albums te plak. Ek het hierdie mooi Pinterest visie van ek en my gesin wat op die bank in ons matching pajamas sit, deur die perfekte albums blaai en saam lag. Totally ridicilous but a girl can dream right?!
Só kom ek op foto’s af waar ek in 1994 saam met my gesin na Mauritius toe was. Ek kan dit goed onthou want in daardie selfde jaar het ons begin blikkieskos versamel asof ons nooit in ons lewe weer Baked Beans gaan kry nie. My ma het tot blikkies -kos agter die TV gebêre! Riaan Cruywagen en Haasdas het van niks geweet wanneer hulle die nuus gelees het nie!
Ons het in Durban op die Achille Lauro passasiersboot geklim. Op een van die foto’s staan my ma met haar ge-perm-de hare die hele foto vol, my pa kyk in my broer se rigting obviously besig om met hom te raas, want hy staan met sy oë vol trane en ek smile met ‘n haasbek. Ek kan net imagine hoe lekker ek op daardie oomblik gekry het oor my broer se oomblik van dissipline. Sussies is mos só, sulke regte haasbek snippe!
Die skip was ongelooflik! Ons kon eet soveel ons wil, rondloop soveel ons wil en wanneer ons geswem het, het die water van die swem-bad van eenkant tot die anderkant in sulke skyhigh deinings gekantel. G’n wonder my ma was die hele rit lank seesiek nie! Dit kon die perm ook gewees het, who knows?!
Ek en my broer stap die eendag na die tennisbaan tot by die boonste dek. Ek kan nou nog nie verstaan hoekom sal ‘n tennisbaan daar heelbo gebou word met die wind wat permanent waai nie? Just a thought… Anyway, toe ons bo kom en by die tennisbaan se hekkie wou in, skep die wind my hoed en dit warrel met ‘n spoed die see in. Ek bars in trane uit! My broer lag hom natuurlik pap (kry my seker terug vir iets!). Ek is in ‘n toestand oor my hoed en met die dramatiese huilsessie kom daar ‘n personeellid en vra of ek OK is. Tussen die trane deur antwoord ek : ‘Nooo, because my hat waved in da sea’…
Strand-etiket #11 Die inspirasie uit die kommuni-kasie stasie.
a) Wanneer jy en jou familie of vriende op die strand uitspan, dra altyd ‘n koekie seep saam en wees asseblief op die uitkyk vir partytjie-woorde. Hulle vlieg sommer só uit mense se monde uit. Wanneer jy ‘n lelike woord gewaar, gryp dadelik die seep en druk dit in die mond van die host. So kan jy iemand se taaltuin red deur dié onbaatsugtige gebaar.
b) Parkeerareas is lyk my nogals dié uithangplek dees-dae. Volgens my persoonlike intensiewe navorsing is dít waar die meeste onkruid in taaltuine voorkom. Ek het al talle kleurvolle towerwoorde daar gewaar. Ons kyk hier na verskillende spesies onder andere die pappa en mamma spesie wat al vir die sesde keer iets in die kar moet gaan haal, ‘n roomys wat op die grond val of ‘n familietwis. Koop daarvoor sommer die seep in bulk!
c) Onthou net, vir elke swets wat vrygelaat word, sterf daar ‘n biblioteekboek.
d) Hier is baie goeie nuus! Taalpuriste ondersteun nou die idee dat selfstandige naamwoorde níé elke keer ‘n byvoeglike naamwoord nodig het nie! Bv. ‘Gee die f-ing bottel’. Ek is so verlig, jy kan nou net sê ‘Gee die bottel’.
e) Ek stel voor wanneer daar ‘n sigaret uit jou mond uithang, om kru taal rondom kinders te vermy. Daar is baie konkrete bewyse dat dié kombinasie dodelik is vir jou reputasie.
Groete uit die taaltuin, Mirka