KLEINMOND – Die veiligheidmaatskappy CULive (uitgespreek see you (a)live) het pas ‘n nuwe reaksiekantoor in die Spar-sentrum oopgemaak. Die hoofkantoor is in Hermanus en dan is daar subtakke in Bettysbaai, Hemel-en-Aarde en nou ook op Kleinmond.
Eienaar Gerrit Bruwer sê hulle het vier jaar gelede hul kantoor in Bettysbaai oopgemaak. Die Kleinmond-tak is goed geleë om die reaksietyd te verkort na dié deel van Hangklip/Kleinmond. Dit is in die hoek net voor die Spar-sentrum se ingang aan die Hoofstraatkant.
“Die dienste wat ons bied is gewapende reaksie, veiligheidswagte, kamera- en alarm-installasies en kringtelevisie, wat alles in ons beheerkamers gemoniteer word. Dan doen ons ook geëlektrifiseerde heinings en hekmotors,” sê hy.
Gerrit het in Dispatch grootgeword en gematrikuleer, waarna hy polisiekollege toe is en vir 18 jaar in die polisie gedien het. Hy is goed toegerus in alle rigtings van misdaadvoorkoming en het onder andere in die spesiale eenhede en die afdeling vir georganiseerde misdaad gewerk.
In 2019 het hy besluit om in die privaatsektor in te beweeg en het met ‘n gewapende reaksie-eenheid in die boeregemeenskap in die Overberg begin. Die fokus was op plaasaanvalle en voorkoming van verliese.
“Ons diens is spesiaal omdat dit in werklike tyd gemoniteer word. Ons kan dus dadelik optree as ons ‘n misdaad sien gebeur en kan selfs byvoorbeeld in die kleinhandelgebied die bestuur in kennis stel as ons ‘n verdagte persoon sien om potensiële verliese te verhoed. Sien, addresseer en verhoed is ons slagspreuk.
“Ons werk dikwels saam met staatsinstellings en het onlangs ‘n mooi optrede saam met CapeNature gehad om ons Fauna en Flora te beskerm.
“In die geval van huisbrake kry ons positiewe resultate, en ons doen bykans weekliks arrestasies. ‘n Mens kan nie huisbrake voorkom nie, maar ons kan wel die misdadigers op die persele wat deur ons beskerm word, arresteer voordat ons hulle aan die polisie oorhandig. Sodoende keer ons dat die buit verlore gaan.”
CULive werk in die Wes-Kaap, Gauteng en Kwazulu-Natal. Hulle het 74 mense in diens, wat in skofte werk om 24 uur per dag gemoedsrus aan hul kliënte te bied. Hulle werk saam met ander veiligheidsmaatskappye en is ingeskakel by verskeie gemeenskaps- en whatsappgroepe.
“Om in hierdie bedryf te werk moet ‘n mens passie hê vir misdaadvoorkoming. Ek staan soggens opgewonde op en sien uit na die dag met al sy gebeurlikhede. Dis arbeidsintensief en soms kos dit bloedsweet, maar ek is hart en siel in die bedryf, ” sê Gerrit.
Skakel hom by 083 260 2118, bel een van die kantore of die nasionale nommer: 086 162 6347 vir meer inligting.