11.1 C
Kleinmond
Tuesday, September 17, 2024
spot_imgspot_img

Southern Vet Kliniek brei uit na groter perseel

KLEINMOND – Dit was ‘n prettige dag vir die dorp se honde en hul eienaars toe veearts Floris Kruger op Saterdag 15 Junie die opening van Southern Vet Kliniek se nuwe perseel by Hoofweg 63 gevier het. Daar was smulhappies en geskenkies vir die besoekende honde en die eienaars is op ‘n begeleide toer deur die uitgebreide fasiliteite geneem.

“Ons kan nou ‘n baie vollediger diens aan die gemeenskap lewer – selfs X-strale neem, wat ons voorheen na ander praktyke moes verwys het. Die ligging is ook baie beter hier in die middel van die dorp,” sê dr Floris.

Die ontvangsarea is heerlik ruim, met ‘n wye reeks troeteldierprodukte en kos. Die wagkamer het ‘n deur na buite, met ‘n omheinde grasperkie waar honde rustig kan stap of speel. Die spreekkamer is ook ruim en met muurskilderye van troeteldiere opgevrolik.

Die nuwe teater is klinies en het spesiale beligting. Die ondersoektafel het ‘n wasbare kunsgras-bedekking om die ondersoek minder stresvol vir die dier te maak. ‘n Krag-omskakelaar (inverter) sorg dat beurtkrag nie ‘n probleem met die yskaste en vrieskaste sal veroorsaak nie. Daar is genoeg nasorg-hokke vir honde en die katte kan nou in ‘n aparte klankdigte vertrekkie herstel. “Honde wat blaf en tjank veroorsaak baie spanning by ‘n kat – veral as hy self in trauma verkeer,” sê dr Floris.

“Ons is ook baie opgewonde oor ons nuwe logo: ‘n hond en kat in die buitelyne van ‘n beskermende groen pootjie,” sê Erika Kruger wat die bemarking behartig. Die groen kleur van die pootjie dui op groei, asook ‘n groen voetspoor wat die praktyk graag met hulle werk op die aarde sal wil nalaat.

Southern Vet se veeartswinkel by The Hub op Bettysbaai dryf steeds handel in allerhande troeteldierprodukte, maar in hierdie stadium word daar nie meer van hierdie perseel af veeartsdienste gelewer nie.

Gaan loer gerus by die nuwe perseel in: Hoofweg 63.

Dr Floris in sy nuwe ruim spreekkamer.
Kobie Coetzee
spot_img

Latest Posts

PRAAT MET ONS

    error: Content is protected !!