KLEINMOND – Die Herald en ‘n groep Kleinmonders het in 2019 ‘n projek begin om kulturele bande met ‘n dorpie in Patagonië in die suide van Argentinië te bou. Sarmiento het ‘n inwonertal van ongeveer 25 000 mense en is in die droë Karoo-agtige Patagonië geleë. Wat die dorp besonders maak is dat dit die tuiste is van honderde afstammelinge van Boere wat na die Anglo Boereoorlog uit hul geboorteland na Argentinië uitgewyk het.
Meer as 120 jaar later gedenk hierdie groep steeds hul Afrikaanse herkoms en tradisies. Hulle bak nog koeksisters en melktert en hou jaarliks familie saamtrekke. Hulle doen dit uit eie beweging, want hul herkoms is vir hulle belangrik. Ons meen dit is merkwaardig.
Nadat die redakteur van die Herald Sarmiento in 2019 besoek het is daar saam met die organisasie wat die Afrikaanse afstammelinge verteenwoordig besluit om ‘n kulturele uitruilooreenkoms aan te gaan. Die gedagte was om jongmense van Kleinmond en Sarmiento die geleentheid te bied om mekaar se kulture en leefwyse te ervaar vir sowat 10 dae tydens die skool- en universiteitsvakansie in Januarie van elke jaar.
Die eerste twee jong Argentyne het in Januarie 2020, kort voor Covid in Suid-Afrika aangekom. Met die goedgunstiglike hulp van ‘n hele horde Kleinmonders is verblyf vir hulle gereël, hulle is rondgeneem – onder andere na die argief op Stellenbosch en hulle het ons omgewing en pragtige natuurskoon saam plaaslike gidse verken. Hulle het saam met die haaie gaan duik op Gansbaai en selfs ‘n bietjie Afrikaans geleer.
Die twee meisiekinders is hier weg met ‘n hoop uitsonderlike herinneringe en ervarings en kon nie uitgepraat raak oor hul besoek nie. Oor hoe ons saam met die bobbejane moet leef, oor hoe ons koffie saam met alles drink, ens…ens. Hul besoek het duidelik ‘n buitengewone indruk op hulle gelaat en dit is presies wat ons wou bereik.
Toe kom Covid en die projek staan vir twee jaar stil. Die jaar daarna was almal nog besig om te herstel van die nagevolge van Covid en dit het beroerd met die ekonomie in Argentinië gegaan. Vroeg in 2024 het ons besluit om die projek weer in Januarie 2025 te hervat. Die gedagte is dat ons ‘n jongmens van hier na Sarmiento stuur en hulle weer een of twee hierheen.
Elkeen van die dorpe sal huisvesting verskaf aan hul gaste en hulle blootstel aan die kultuur en manier van dinge daar doen. Die enigste koste betrokke is die vliegtuigkaartjies na en van Argentinië. Hiervoor sal elke dorp self instaan. Kleinmond moet dus betaal vir ‘n vliegtuigkaartjie van Kaapstad na Buenos Aires en van daar na Commodore Rivadavia terwyl die Argentyne self vir hul vlugte moet betaal.
Die uitdaging waarvoor ons op die oomblik staan is om die geld vir ‘n vliegtuigkaartjie bymekaar te kry. ‘n Vinnige internetsoektog vandeesweek het getoon dat dit ‘n enorme R30 000 gaan kos, ‘n dramatiese styging teenoor wat dit in 2020 was. Ons is vasbeslote om dit reg te kry, maar ons gaan u hulp nodig hê.
As u ‘n bydrae kan maak sal dit hoog op prys gestel word. U kan dit aanlyn doen by overstrandherald.co.za asook whalecoastnews.co.za. Ons sal elke bydrae in die Herald en op Whalecoastnews erken. Ons het reeds ons eerste fondsinsameling gehou en beplan verskeie ander. As u idees het of wil help, laat weet asb. Ons verwelkom enige voorstelle. Stuur dit asb na redakteur@overstrandherald.co.za.
Intussen sal ons binne die volgende paar weke nominasies vra vir jong Afrikaanssprekende Kleinmonders wat belangstel om Sarmiento in Januarie 2025 te besoek om ons dorp daar te gaan verteenwoordig. Hou maar die Herald en Whalecoastnews dop.
Ons het hieronder ‘n skakel opgestel na die Overstrand Herald se Payfast rekening, spesifiek vir donasies vir die uitruilskema. Ons sal gereeld in die Herald en ook op Whalecoastnews verslag doen oor waar ons staan en wie bygedra het tot die projek.
Maak ‘n aanlynskenking by www.overstrandherald.co.za.