KLEINMOND – Just Delicious het al ‘n huishoudelike naam in Kleinmond geword met die heerlike koek, southappies en etes wat hulle verkoop. Hannes Human het die winkel op 9 Oktober 2023 oorgeneem en hy en sy span het pas hul eerste verjaarsdag met hom as eienaar gevier.
“Ek het nou ‘n nuwe logo met ‘n meer moderne aanslag laat ontwerp. Deur die jaar het die spyskaart en interieur ‘n bietjie verander om meer binne-sitplekke beskikbaar te hê, maar alles hier is steeds just delicious,” glimlag Hannes. “Ek is baie dankbaar vir die ondersteuning van al die lojale plaaslike kliënte, asook dié uit die distrik wat van die besigheid ‘n suksesverhaal maak. Ook my staatmaker-personeel. ‘n Mens is maar net so sterk soos jou span. My familie ondersteun my ook heelhartig, wat my taak vir ons almal ‘n plesier maak.”
Hannes is oorspronklik van die Vrystaat, waar hy by die destydse Vrystaatse Technikon ‘n kursus in die Gasvryheidsbedryf voltooi het. Hy het vir 14 jaar ondervinding in alle aspekte van die bedryf in Kaapse hotelle opgedoen, tot hy en sy gesin drie jaar gelede na Kleinmond verhuis het. Hier het hy by Arabella ‘n pos beklee totdat hy Just Delicious oorgeneem het.
“Ons middagetes en Sondag-etes bly maar die gewildste met die quiches, worsrolle en kaaskoeke wat baie naby op hul spoor bly. Ek werk op ‘n daaglikse spyskaart en ons beesstertbredie op Dinsdae en kerriedis op Donderdae het my al baie komplimente besorg.”
Just Delicious is op Maandae toe, maar die res van die week is die handelsure van 7:00 tot 16:00. Naweke is hulle oop van 7:00 tot 14:00.