KLEINMOND – Kirstan Whitehead is onlangs aangewys as die Kleinmond/Sarmiento kulturele uitruilprogram se eerste uitruilstudent. Sy gaan in Januarie volgende jaar reis na die dorpie Sarmiento in Patagonië in Argentinië waar sy sowat twee weke lank by die afstammelinge van die Afrikaanse gemeenskap gaan deurbring.
Om hierdie droom ‘n werklikheid te maak, span VLV-Kleinmond en die Overstrand Herald kragte saam om fondse in te samel vir hierdie eens-in-’n-leeftyd geleentheid.
Een van die maniere waarop u kan help is om ‘n lootjie vir twee VLV geskenkpakke te koop. Die geskenkpakke is by Datastoor en Kleinmond Central Café te sien.
U kan ook daar ‘n lootjie koop vir R20 en dan staan u ‘n kans om een van die geskenkpakke te wen. Elkeen van die geskenkpakke is spesiaal bymekaar gesit deur die VLV en bevat ‘n reeks lekkernye. Maar jy sal moet opskud!
Word deel van die dorp se opgewondenheid en kom ondersteun hierdie skitterende projek. Die trekkings vir die uitlootpakkies sal by die VLV-afsluiting op 26 November gedoen word en die wenners sal in die Overstrand Herald aangekondig word. Alice van Rooyen