23.2 C
Kleinmond
Wednesday, December 11, 2024
spot_img

Kyk hoe mooi is Kleinmond!!

00:03:48
Twaalf lede van die NSRI se stasie 42 op Kleinmond het op Saterdag 30 Nov 2024 'n 4,1 km lange swem vanaf die hoofstrand...

Arina Myburgh glo groepwerk in kuns het baie voordele

KLEINMOND – Kunstenaar Arina Myburgh, wat bekend is vir haar inspirerende kunsklasse en werkswinkels, glo dat groepwerk vir beginners en gesoute kunstenaars baie voordele inhou. Sy het pas inskrywings vir 2025 se kunsklasse vir kinders en volwassenes oopgemaak.

Arina bied al 28 jaar Kunsonderrig in haar reisende Montage-studio. Sy het weeklikse klasse in Kleinmond, Hermanus en Somerset-Wes. Haar jeugstudente samel handevol toekennings by plaaslike en die Kaapstad Eisteddfod in en hul gemiddeld is meestal bo 90%.

“Kinders is in veilige hande by my. Ek lei en mentor hulle en help dié met potensiaal om hul doel te bereik as hulle kuns hul loopbaan wil maak. Daar is soveel moontlikhede – nie net in skone kuns alleen nie. Ek het kontak met alle tersiêre inrigtings en weet in watter rigting hulle moet spesialiseer omdat ek elkeen deur sy of haar kuns leer ken,” vertel sy.

“Dit gaan vir my nie net oor kunstenaarskap nie, maar om ‘n kunstenaarsgemeenskap met ‘n mooi benadering tot die lewe te kweek. Kuns is goed om abstrakte denke te bevorder, wat nodig is in wiskunde en taalvaardighede. Ouers vertel my dat hul kinders se konsentrasie en skoolpunte verbeter. Dit bevorder hul tydsbegrip en liniêre denke, omdat hulle vir lang tye aan ‘n projek werk. Selfs mense met erg gestremdhede het al by my klasgeloop en kan iets wys wat gevier kan word. Ons jaag nie pryse nie, maar dit gebeur outomaties.”

Arina kan tot 10 kinders per klas hanteer, en sy neem hulle in twee vlakke. Kinders van 5-10 jaar kom vir ‘n uur tussen 15:00 tot 16:00 en 11-17-jariges vir ‘n uur en ‘n half tussen 16:00 en 17:30. Haar Kleinmond-klas is by ChristGen Kerk in Sewendelaan se kuier-area. “Dis lekker sentraal, ruim en lig en daar is ‘n oprit vir rolstoele.”

Sy werk net so graag met volwassenes. “Deur in ‘n groep saam te kom, bou ons ‘n gemeenskap van mense met dieselfde belangstellings. Ons leer van mekaar en deel wenke uit. Dis gesellig – van my studente kom spesifiek klas toe om weg te kom van hul stres, die rekenaarskerm en om saam met mense te wees. My voerarea hier in Kleinmond is van Rooiels af tot Botrivier. Mans en vroue is welkom – beginners sowel as gevorderde kunstenaars. Ek wil dit wat in mense weggesteek is, ontgin. Hulle moet uitdrukking van hul denke en gevoelens in kleur en vorm kan gee.”

Vir Desember beplan Arina werkswinkels. By The Art Boutique in die Hawegebied is daar op Vrydag 13 Desember linosnee, op Saterdag 14 Desember ‘n waterverf-werkswinkel en op Maandag 16 Desember gaan kinders met lugdroogklei Kersversierings maak, met die fokus op fynbos.

 

Skakel Arina by 064 810 8844 vir meer besonderhede.

 

 

Kobie Coetzee
spot_img

Latest Posts

PRAAT MET ONS

    error: Content is protected !!