KLEINMOND – Die gewilde Carry Me Home Deli & Restaurant in Haweweg het op 29 November ‘n nuutjie bygekry wat die hele belewenis in die besigheid ‘n ekstra hupstoot gee: Mede-eienaar Mariaan Groenewald se geskenk-afdeling: Mariaan’s.
“Dis lankal my droom om my eie geskenkwinkel te hê, en nou is die tyd reg daarvoor,” vertel sy. “Frans (haar man) is die een wat met kos kan toor, en ek is die mooimaker in die restaurant. Ek glo egter dat ons eers deur die seer moes gaan van my ma en skoonpa wat die afgelope twee jaar oorlede is om weer die mooi dinge in die lewe raak te sien en te waardeer. Ons wil die pyn agterlaat en die skoonheid omhels met my winkel. Dis hoekom my winkel se slagspreuk uit Ps 111:4 kom: Marvellous, Splendour, Beauty. Dit is wat God ons in die Psalm belowe.”
Mariaan het vir haar winkel produkte gekies wat vir haar mooi is, en die meeste is van klein entrepreneurs. Produkte wat haar baie na aan die hart lê is kralewerk wat sy tydens hul kerk se uitreik na Zambië by Hope of Art gekoop het. Dit word deur vroue gemaak en die opbrengs help om vir kinders kos te koop. “Die meeste ander produkte het my aangegryp omdat dit ‘n Bybelvers bevat.” Sy het ‘n reeks opvoedkundige speelgoed ook aangekoop. “Terwyl die kinders speel, kan die ma’s mos ‘n bietjie hier by ons restaurant ontspan,” glimlag sy.
Nog ‘n nuutjie is haar eie reeks dag- en nag-velroom wat ‘n bietjie kollageen bevat. Ander geskenke en mooigoed is serpe, sokkies, badprodukte, tafelversierings en lopers, plante in glaspotte, Kersversierings en nog baie meer.
Neem jou vriende en vriendinne om iets by Carry Me Home te gaan eet en gaan verlustig jou in alles wat by Mariaan’s te sien en te koop is.