Dis ons laaste nuuskoerant van die jaar. Teen die tyd wat u hier lees, werk ons reeds hard aan ons vakansie koerant wat op Maandag 16 Desember verskyn. Soos altyd beloof dit om ‘n lekker vakansiegids vir ons streek te wees. Moet hom nie misloop nie!
Ek sal lieg as ek sê dit was nie ‘n moeilike jaar nie. Soos elke ander koerant in die wêreld is ons ook op soek na ‘n nuwe sake-model wat klein gemeenskapskoerante soos ons weer lewensvatbaar kan maak. Ons het hom nog nie, maar ons dink ons het iets wat ons ten minste nader daaraan gaan bring. Ons sal julle in die nuwe jaar meer vertel van al ons planne.
Intussen wil ons aan elkeen van ons lesers en adverteerders dankie sê vir julle ondersteuning. Ek wil ‘n klompie uitsonder. Kleinmond Superspar, Ask-IT en ASK Sekuriteit, Albertyn Apteek, Blou Bakkie, Sonic, Kleinmond Lodge en OK Mini Mark. Hulle is ons digitale vennote en Superfans. Hierdie is almal mense en besighede wat besef hoe belangrik dit is dat daar ‘n plaaslike koerant is wat ons munisipaliteit en ander owerhede op hul tone hou, wat mense ‘n platvorm gee om hulle besware en kwellinge te lug. Wat nie bang is om die burgemeester en haar administrasie aan te spreek as ons dink hulle is die pad byster nie… en dit doen sonder om mense persoonlik aan te val of te beledig. Wat nie bang is om boelies, misdaadsindikate en bedrog te ontmasker nie.
Geen koerant in ons streek doen meer in-diepte verslaggewing oor munisipale kwessies as die Herald nie. Daar is ook geen koerant wat ‘n groter invloed op besluitneming in die Overstrand het as die Herald nie. Waar lees jy oor munisipale salarisse, tariewe en die begroting? Wie het vanjaar onthul dat twee groot munisipale tenders aan sakevennote van ‘n lid van Overstrand se burgemeesterskomitee toegeken is? ‘n Aansoek om die tenders ter syde te stel sal na verwagting in die komende jaar in die Wes Kaapse Hooggeregshof gebring word. Dis maar een voorbeeld van die belangrike werk wat ons die afgelope jaar gedoen het.
Ons hoop om in die nuwe jaar hierdie trotse tradisie van diens aan die gemeenskap wat oor dertig jaar strek, voort te sit. Geniet jul vakansie! Gerard Grobler. Redakteur