KLEINMOND – Somervakansie het al sinoniem geraak met inwoner en avonturier Johan Badenhorst se Grootbek-fees. Dit word vanjaar vir die derde keer aangebied en Johan het weer ‘n gedugte groep bekende kunstenaars ingespan om die vakansie hier op te luister.
“Hierdie kunstenaars tree gewoonlik in mega-konserte op en dis wonderlik dat hulle bereid is om hier in ons kreeffabriek uit vervloë dae voor ‘n gehoor van minder as 200 mense te kom optree. Iemand soos Stef Bos is van internasionale statuur. Hy is tans op toer deur Europa. Ons bring vir hom sy vleuelklavier Kleinmond toe, want dit is sy instrument. Ons tegniese span is uitstekend. Hulle is professionele mense wat in die bedryf staan. Ons kaartjies is by Quicket te koop, wat professionele besprekings doen. Dis as’t ware ‘n groot musiekfees op klein skaal,” sê Johan.
As vervaardiger van dokumentêre reekse vir TV en self ook uitvoerende kunstenaar as dit by stories vertel kom, het Johan al met al die kunstenaars wat hier kom optree skouers geskuur. Wat dit nog meer besonders maak, is dat die kunstenaars almal in die nabye omgewing woon, ‘n strandhuis hier het of op toer deur die streek is.
Jak de Priester skop die fees op 15 Desember af. Johan was ‘n week of wat gelede op Jak se TV-program Koppieteefontein, en vroeër ook op Reis na Gister. Jak se optrede val saam met Haweweg se Liggiesfees in The Shed, maar hy gaan ook die middag ‘n voorvertoning by die Liggiesfees hê.
Op Maandag 16 Desember is dit die gewilde Radio Kalahari-orkes. Hulle was by al die vorige Grootbekfeeste en die kaartjies word gewoonlik uitverkoop. Ian Roberts, die leier van die orkes, gaan by die konsert sy outobiografie, Nomad Heart, bekendstel.
Op Dinsdag 17 Desember is dit Anton Goosen se beurt. Op sy ouderdom van 78 het hy al weer ‘n nuwe album, Sirkels, vrygestel. Hy gaan sy gewilde treffers by die Grootbekfees sing. In die 1980’s was Anton die dryfveer agter die groot Houtstok-musiekfees en Johan het destyds die fees se promosievideo gemaak.
Valiant Swart, wat op 19 Desember optree, stel ook sy nuwe album bekend. Rondry, fliek en die buitelewe is ‘n titel wat hy gekry het in die Hoekie vir Eensames. Johan en Valiant tree gereeld saam op soos onlangs by die River Party in Botswana waar Johan stories vertel het en Valiant vir die musiek gesorg het.
‘n Nuutjie op vanjaar se program is die Drie Kaalkoppe: Koos Kombuis, Dana Snyman en Erns Gründling. Dana gaan sy boek, Seun, by die optrede op Donderdag 19 Desember bekendstel.
Frank Opperman is op Vrydag 20 Desember aan die beurt. Hy voer Die Reünie van Dana Snyman op. “Ek het die eenman-opvoering gesien en dit is uitstekend! Hoe Frank dit regkry om die gehoor vasgenael te laat sit deur die verskillende karakters van ou skoolvriende by ‘n reünie te speel, is net verstommend,” sê Johan. Hy en Frank het jare gelede saam ‘n landbou-televisiereeks gemaak. Frank was die aanbieder en Johan die regisseur.
En dan op Saterdag 21 Desember is dit Stef Bos. “Ons het mekaar 20 jaar gelede in sy huis in België ontmoet toe ek ‘n dokumentêr oor die Afrikaanse luisterliedjie gemaak het. Hy is eintlik ‘n baie privaat mens wat nie sommer die media in sy huis toelaat nie, maar hy het ons hele televisiespan in sy huis toegelaat omdat ons van Suid-Afrika was. Stef is met ‘n Afrikaanse vrou getroud en hul kinders is by Jan van Riebeeck in Kaapstad op skool, vertel Johan.
“Dit maak sake vir my maklik om die Grootbekfees met hierdie groot name te reël, omdat ek die mense ken. Ons kan die kaartjies bekostigbaar hou omdat Safari Speserye ons weer borg. Ons eie Grootbekwyn van Schalk Burger se wynplaas gaan weer te koop wees en daar gaan ‘n koswaentjie wees. Die ideaal is dat mense hul pêlle saambring, iets te ete koop en met ‘n glasie wyn die sonsondergang buite staan en geniet. en as dit donker word, begin ons met die optrede,” sê Johan. “Ons konserte hou voor Kersfees op, want dan is dit familietyd.”