KLEINMOND – Antjie Krog, skrywer en Hertzogprys-bekroonde digter se gedigte boor elke faset van ons lewens raak. Sy het self haar digbundel, Plunder,  Maandagmiddag 31 Maart by die Leeskringvergadering bespreek. Die Kleinmond Leeskring, wat in 1992 deur nege entoesiastiese lesers gestig is, het vanjaar al 114 lede.

“Antjie, die meeste van ons hier is, soos jy, ‘n baby-boomer. Maar toe ons nog ge-ja mamma, ja pappa, ja meneer, ja dominee het, het jy al ‘n stem gehad – ‘n stem waarna geluister is,” open Jaretha van der Merwe die middag.

“Ons het die konteks van biologiese ontwikkeling, die bruid en jong vrou saam met jou beleef – ons het hierdie konteks geken,” voeg sy by.

Daarna neem Antjie die mikrofoon en die kreatiwiteit waarmee sy haar werk benader, word met elke voorlesing tasbaar.

“’n Skrywer se brein is anders ingerig. Ek kyk nie analities na my werk nie. Ek kyk kreatief na my werk. Ek praat vandag oor Plunder en ek kan dit verduidelik, maar ek wil nie so aan my werk dink nie. Ek probeer analise weghou, want dit bring altyd ‘n geslote ruimte,” sê Antjie.

In die openingsgedig skryf sy : “Dit kom nie meer op my af nie / die geluid / die geluid van ‘n gedig kom nie meer op my af nie.”

“Die gedig is daarop gebaseer dat ‘n prosaskywer ‘n konsep van ‘n landskap of ‘n verhaal kry, terwyl ‘n digter ‘n reël kry –  iets wat jy hoor en dan skryf jy,” verduidelik sy aan die aandagtige gehoor.

In Plunder raak Krog temas aan soos die landskap van ‘n vrou, die huwelik, die aftakeling van die lyf en ‘n “onordentlike gevoel van geluk”, wat ouma-wees haar bring:

“Op die lughawe wag ek haar in. Die kleintjie ruk los uit haar gesin en van vêr deur vreugdes en trollies en tasse en drome en reise kom sy na my toe aangehardloop. Haar oë groot, blink, klaar poele. My naamgenoot, in tweedehandse skoentjies wat klap op die graniet, skiet haar glimlag op en ek sprei my arms soos ‘n pou. Sy is sterker as ouderdom, sy is magtiger as die dood, haar teer blydskap heers oor my hemel en aarde. My oumahart bokspring. Ek word ‘n weerligslingeraar, ‘n opraper van heerlikheid. Al is ouma op pad na die grofklippige aarde. In my arms word ons uitgelatenes met goue teuels en ek draai om na my tas. As ouma heel oud is, sal die dood kom uit die berge, sag en grys soos mistige weer en sy kop knik soos ‘n vriend, maar aan die handjie wat nou in myne glip, hang vir altyd die hele wet en die profete.”

Sy voer die gehoor mee met daaropvolgende verse van jubelsange en ook ‘n klaaglied van die land wat geplunder word.

“Ons word geplunder deur ouderdom, maar ons is ook die plunderaars,” sê Antjie. “Onsalig is die geplunderdes want hulle is die sagte gewrigte van die wêreld.”

Sy sluit die gedig roerend af: “In die paar jaar wat oor is moet ons ons vestig in vrede. Ons vreugdevol plooi en krimp terwyl ons kyk. Lank en eerbiedig soos ‘n oudagmens moet kyk na die brandende onderganende son.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *