
KLEINMOND – Overstrand se DA burgemeester, dr Annelie Rabie sê sy is bewus van whatsapp boodskappe wat rondgestuur word waarvolgens sy glo in hegtenis geneem en in die hof verskyn het, maar dat daar geen waarheid in steek nie. Dr Rabie het in reaksie op ‘n navraag deur die Herald vanoggend gesê: “Ek het so ‘n w/app wat die rondte gedoen het, ontvang, maar ek sit hoog en droog in my kantoor. So nee, ek is nie bewus van my inhegtenisname nie en ek het ook nie in ‘n hof verskyn nie.”
Die burgemeester het in reaksie op gerugte dat daar tans ‘n paleisrewolusie onderweg is deur DA-lede om haar te ontsetel, gesê dis nie DA-praktyk om te reageer oor interne aangeleenthede binne die party nie. Volgens die gerugte wat op sosiale media versprei word, het ontevrede DA-raadslede in die Overstrand glo ‘n brief aan die DA se federale voorsitter, me Helen Zille, gestuur. Dr Rabie sê sy het nog nie so ‘n brief gesien of ontvang nie. Sy sê Zille besoek deurlopend kiesafdelings regoor die land en daar is niks vreemds daaraan dat sy op die oomblik in die Overstrand is nie. Dr Rabie sê sy dra ook geen kennis van ‘n sogenaamde beeldpoetser wat glo spesiaal aangestel is om die DA in die Overstrand te help nie.