KLEINMOND – Die Blomstoor in Heuningkloof se groot deur skuif oop en daar ontvou jare se drome voor ‘n mens se oë: filmmaker Cobus van der Berg se versameling van sowat 20 vintage motors. En hierdie is nie al nie. By sy lodge in Hoedspruit, in Oudtshoorn en in Durbanville staan ook ‘n paar.

“As ek so na my versameling kyk, verlang ek na my pa. Hy het altyd een van hierdie Citroëns begeer wat ‘n suspensie het om hom uit sy rustende posisie op te lig en vir ‘n saggeveerde rit te sorg.” Hy streel oor die blou juweel se dak. “My vrou Gerdi het op ‘n stadium haar kar vir hierdie Citroën verruil en net daar het die gogga om besonderse motors te versamel my gebyt,” vertel Cobus.

Elke motor op die stoor se vloer het ‘n storie. Hy wys na ‘n ou Peugeot 404. “Hierdie een het ek in Lichtenburg opgespoor. Die man verseker my dat die kar nog lang afstande kan ry. Ek sê vir hom as die kar tot in die Kaap kan ry, koop ek hom. Hy het dit maklik gedoen en ek ry hom nog gereeld. “Hierdie 1974 Peugeot het ek van oom Christoffel gekoop – ‘n Franse kar uit Franschhoek.”

Cobus by twee van sy juwele wat in die teater-area geparkeer is.

Cobus stap na nog ‘n Peugeot – ‘n 404 stasiewa. (Hy is maar een van nog baie Peugeot’s in die stoor).

“Ek het hierdie een in Stellenbosch sien staan. Ek sit toe my kaartjie onder die ruitveër met die nota dat die eienaar my moet skakel as hy die kar ooit wil verkoop. Vyf jaar later bel die oom my en sê dis nou te koop, ek kan hom kom haal. Dit was tydens Covid en my finansies was maar skraal. ‘Jy kan my betaal as jy geld het. Kom kry hom solank,’ antwoord hy.”

In die hoek staan ‘n 1976 Ford Escort. “Hierdie ou het net 92 000 kilometer op sy klok en alles aan hom is nog 100% oorspronklik – tot sy vensters. Hier is van die ander karre wat maar 37 000 km op het. Ek koop liewer karre wat in ‘n goeie toestand is en betaal meer as om een wat verwaardeloos is te koop en dan duisende op hom te spandeer. Ek het my les geleer met die blou bakkie wat ek onder ‘n hoop rommel gekry het. Net sy lig het eers uitgesteek. Toe ek bietjie rondom oopmaak om beter te sien, word die modderskerm sigbaar. So het ek die hele bakkie oopgemaak en hom ge-koop. Maar dis jarrrre se probleme,” lag hy.

Cobus wys na ‘n paar karre wat al rolle in sy films gekry het. Ons stap verby nog een van sy skatte: ‘n skaars Volvo  P1800 soos dié waarmee Roger Moore in The Saint rondgery het. “Snaaks … niemand wou hierdie Volvo’s koop nie. Tot die filmreeks verskyn het.  Toe wou almal so een hê. Dit het ‘n kultuskar geword.

Deur die jare het motorklubs Cobus as versamelaar leer ken. Soms bel hulle en sê daar is een op die mark en hulle dink Cobus moet hom koop, anders gaan hy Afrika toe. “Dis gewoonlik Peugeot’s, omdat hulle so gehard is. Nou … almal weet hoe ‘n kar in Afrika behandel word. Hulle word selfs gebruik om lande te ploeg! Dan red ek hom maar… ons versamelaars word custodians genoem, nie eienaars nie.”

‘n Gedeelte van die versameling in die Blomstoor.

“As ek my kop wil skoonkry, kom ek hier na my versameling toe. Ek was en pamperlang hulle. Hulle moet gereeld gery word en ek gee elkeen ‘n beurt. Ek laat hulle ook elke jaar diens, anders hou hulle nie,” vertel hy.

Behalwe dat Cobus nou ook ‘n teater in die ou Blomstoor begin het, is hy besig om vir hom ‘n man cave daar in te rig waar hy sy groot versameling modelmotortjies wil uitstal. Op die oomblik is net sy pa se ou transistor radio’tjie daar, maar gee kans, sê hy. Sy span is nou eers besig met voorbereidings om ‘n Deon Meyer-reeks in Hoedspruit te verfilm. Dit sal hopelik in Junie begin.

Die naam is Invisible  en dit gaan oor renosterstropery. Dan is hy ook met bouwerk by sy huis hier op Kleinmond besig. “Dis bietjie ontwrigtend en ons plak in ons bure se huis, maar bou is lekker. Dis ‘n kreatiewe proses.” Soos alles wat hy aanpak.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *