
KLEINMOND – Dit het al ‘n instelling geword dat die KUSA-hondekampioenskappe van die Whale Coast Kennel Club en die Overberg Kennel Club elke jaar vroeg in Maart hier op die Laerskool se rugbyveld gehou word.

Die afgelope naweek het die gazebo’s in netjiese vierkante rondom die vier arenas inwoners weer gelok om hulle aan die vertroeteling van die kampioenhonde te gaan verkyk. Dis pelse uitborsel tot dit soos spookasem uitpof, naels en tande pamperlang, bederfies voer vir goeie gedrag, aanmaan as die hoksittery te veel vir ‘n honde-gemoed raak en dan die vertoning in die arena as dit jou beurt is. Die eienaars bly ook nie agter wat voorkoms betref nie!
Daar word in sewe kategorieë meegeding en deelnemers is meestal van die Wes-Kaap, maar daar was ook inskrywings van ander provinsies.





