BETTYSBAAI – Teen die tyd dat Samantha Barnard van Kleinmond op die eerste dag van Februarie besef haar wit, dowe katjie met die lugblou ogies en ’n klokkie om sy nek het weggeraak en is beslis nie meer iewers in hul eie straat of buurt nie, is Dobby reeds in ‘n nagmerrie en oorlewingstryd gewikkel. Dit duur byna drie weke.

Hoewel sy en haar man nie seker is hoe hy op Bettysbaai beland het nie, is dit hoogs waarskynlik dat Dobby op Vrydag 31 Januarie per ongeluk saam met Drean, ’n geesdriftige hengelaar, in sy Land Rover soontoe gery en met die stilhouslag uit- of afgespring en gevlug het.

Samantha maak dadelik ’n plasing op Facebook, met foto’s van haar katjie, en vra dat enigiemand wat hom op Kleinmond gewaar, die foonnommer op die naamplaatjie moet skakel. Eers ’n paar dae later sien iemand hom op Bettysbaai en bring die kloutjie by die oor. Maar hy is erg verwilderd en vlug. Soos Helga de Klerk van Pringlebaai, wat uiteindelik die heldin in die storie is, sê – Dobby het net een ding in sy kop gehad, en dis om te hol. En natuurlik te oorleef.

Dierbare Dobby in gemaklike luim by die huis

Die soektog na die verlore katjie verskuif na Bettysbaai, en uiteindelik is daar genoeg besorgde oë en harte betrokke om te kan aflei dat hy snags hoofsaaklik in ’n redelik beperkte area in Disaweg, tussen Porterrylaan en Dianthussteeg, waar Drean aanvanklik stilgehou het, beweeg. Bedags is hy skaars. Vermoedelik skuil hy in digte bosse en waterpype. Sy klokkie help dat mense hom soms skielik in ’n tuin of onder ’n bos gewaar; maar van naderbeweeg is daar nie sprake nie: die dowe katjie is duidelik angsbevange en verdwyn elke slag soos blits.

Sy mense kom soek elke aand ná donker onvermoeid na hom, want hy is so kwesbaar – ook vir slangbyte in die somerhitte – en waarskynlik met twee weke van vlug en wegkruip agter die rug, reeds flou van die honger. Helga raak intussen betrokke, omdat sy jare se ervaring met sowel wilde as huishoudelike katte het. ’n Vanghokkie met kos in, is ’n noodsaaklike deel van die reddingspoging. Maar telkens blaas hulle die aftog met ’n leë hokkie, na ure van soek en wag in die donker.

Dan – uiteindelik, in die vroeë oggendure van 18 Februarie, met die hokkie opgestel in Disaweg waar Dobby vermoedelik by een of twee geleenthede kos wat vir hom neergesit is, gevind en geëet het, word die spanning verbreek. Die gebede en pogings van almal wat omgee en help soek, span waarskynlik saam met sy uitputting en honger en Helga hoor die deurtjie toeklap van waar sy ’n paar treë weg in die donker wag. Wat ’n verligting!

Die dierbare lugblouoog-katjie met die klokkie om sy nek, maar sonder gehoor, is veilig by die huis.

Sy eienaars is diep dankbaar teenoor almal wat gehelp het deur saam te soek of inligting aan te stuur. En Helga sê sy het nog nooit soveel meelewing en welwillendheid in ’n gemeenskap beleef nie. Lisel Krige

1 Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *