
KLEINMOND – Thinus Ries (klavier) en Jolani Klopper (viool) se Golden Oldies kon-sert het die gehoor op vêr paaie teruggevoer. “My pa het altyd hierdie lied vir my gesing om aan die slaap te raak,” was een kommentaar oor Die Ou Meulstroom, en ‘n volgende het vertel hoe haar kêrel Moon River een maanligaand vir haar gesing het.
Dit was die eerste aand-konsert wat Thinus in sy nuwe Guelph-teater by JS Maraisstraat, Palmiet gehou het.

Die musiek was meesleurend en oral kon jy sien hoe mense in die gehoor se lippe die bekende woorde vorm.
Hier en daar het iemand saamgeneurie of selfs saggies gesing. Liedjies soos Autumn Leaves, Love me tender, Somewhere my Love, Beautiful Dreamer, Fasci-nation het die romantiek laat herleef, terwyl When I grow too old to dream en Silver threads amongst the gold die silwerkoppe instemmend laat knik het.
Die twee instrumentaliste het die atmosfeer van elke liedjie vasgevang – vrolik en tintelend by Blue Moon en Pearly Shells en dromend-meesleurend by die romantiese liedjies. Die program is afgesluit deur almal in die gehoor die geleentheid te gee om dit wat hulle die hele tyd wou doen, saam te laat sing. “Ons sing You are my sunshine, want julle is almal ons sunshine…” sê Thinus.
Guelph Teater het sy vuurdoop met getalle goed hanteer, hoewel Thinus gesê het dat hy tog van die onnodige meubels uit die vertrek sal moet skuif vir ‘n gehoor van 30.
Twee nuwelinge op die dorp, Johann en Annarie Schutte het na die konsert heerlike versnaperinge verskaf, waar-by die mense nog ‘n ruk lekker saam kon kuier.
