
KLEINMOND – Christine Dreyer en Helma Potgieter het op 8 en 9 Maart vir twee vermaaklike middae van poësie by die Guelph Teater gesorg. Thinus Ries het die program aangevul met musiek-tussenspel. Dat die twee woordkunstenaars al diep in Kleinmonders se harte gekruip het, blyk uit die feit dat ‘n tweede optrede geskeduleer is nadat die eerste een se kaartjies binne ‘n kort tyd uitverkoop was.
Sê nou is ‘n lekker sê
Alles wat ‘n mens wil hê
Alles wat jou hart begeer
Kry jy daarmee en nog meer

Hierdie woorde van AG Visser vat die tema van die program saam, wat gegaan het oor woorde in al sy vorms: digkuns, sommer net lekker rym en speel met woorde tot selfs skinder. ‘n Wye verskeidenheid digters se werk het die gehoor soms laat skater en ander keer tot diep nadenke gebring: Boerneef en Philip de Vos se guitige sêgoed is afgewissel met Antjie Krog, Breyten Breytenbach, Marlene van Niekerk, Ingrid Jonker, Wilna Stockenström, Adam Small en ander digters se woorde.
Die twee kunstenaars het soms in solo voorgedra terwyl die trefwoorde soms in samespraak vertolk is.
