KLEINMOND – Die Herfs Oesfees, wat op 4 April 2025 by die skilderagtige Kogelberg gehou word, is nie net ‘n geleentheid nie – dit is ‘n eksklusiewe musiek- en leefstylfees wat die koms van herfs vier.

“’n Kombinasie van musiek, kos, wyn en kultuur. ’n Fees van musiek, magic, gemeensaamheid en verbintenis. ‘n Boho- chic droom onder die sterre” is hoe die organiseerder, Strauss Odendaal die ervaring beskryf.

Die hoofkunstenaars, RAAF, ’n Suid-Afrikaanse folk rock-duo, sal die aand vul en afsluit met liedjies wat diep emosie en passie weerspieël. Hul musiek, ’n mengsel van rock, folk en poësie, beloof ‘n onvergeetlike optrede.

Saam met hulle sal alombekende plaaslike kunstenaars soos Thinus & Gene en Die Kaalkop Waarheid die verhoog betree, elk met hul unieke styl wat die rykdom van ons plaaslike musiektoneel vier.

Twee Bedoeïen-tente sal opgestel word, lang tafels met sagte liggies sal die atmosfeer vul, en daar sal ‘n verskeidenheid kosstalletjies, bier- en wynproe-areas wees.

“Ons neem die gaste op ‘n kulturele reis van tradisionele en innoverende geregte. Kosstalletjies wat gerookte snoekpasteie tot vars hummus en pita-broodjies aanbied. Daar sal ook sjokoladefondue, koekies en vars vrugteslaai wees,” voeg Strauss by.

Die fees se tema, “Herfsmusiek Onder Die Sterre”, kry lewe deur ’n betowerende atmosfeer van Boho-Chic dekor.

“Ons moedig alle gaste aan om hul eie dekor saam te bring om jou gedeelte of tafel te versier. Ons het fantastiese pryse om weg te gee vir die oorspronklikste en mooiste tafel. Tente/afdakke/Gazebo’s by die geleentheid word egter afgeraai, aangesien dit die uitsig kan belemmer en veiligheidsuitgange kan blokkeer. Fancy hoede is wonderlik, bring dit saam,” sê Strauss.

Die kleredrag vir die geleentheid is “Boho Herfs-Chic”. Dit is gemaklik maar stylvol, wat die gevoel van herfs weerspieël. Aardse kleure in wol, linne, en kant is die ideale materiale om die fees te vier.

“Dink aan herfskleure : bruin, okkerneut, groen, mosterd en karmosynkleure soos diep-rooi, pers en ruby. Dames kan lang, vloeiende rokke met stewels of sandale dra, terwyl mans ligte linnehemde met denim of chino’s kan aantrek. ’n Wye-breërandhoed of ’n los serp kan ook mooi werk. Daar sal groot pryse wees vir die besgeklede man en vrou. Geen swart of blou jeans word by hierdie geleentheid toegelaat nie,” sê Strauss.

Dit is ‘n perfekte geleentheid om die gemeenskap bymekaar te bring en borge te help om hul handelsmerke bekend te stel.

Kom kuier saam met ons onder die sterre en laat ons die herfs in styl vier. Vir meer inligting of om kaartjies te koop, besoek https://www.quicket.co.za/events/307162-chase-everitt-herfs-oesfees/?ref=events-list#/ of www.perron25.co.za of stuur ’n e-pos aan hello@perron25.co.za.

Tyd: 16:00 tot 22:30

Kaartjies: vanaf R150per persoon (geen kos ingesluit nie).

Bring: Jou eie piekniekmandjie en tafelversierings.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *