
KLEINMOND – Die Natuurbewaringsvereniging het in 2022 begin met die bou van ’n webwerf wat op plantspesies in die Kleinmond-omgewing fokus. Die inligting oor elke spesie begin met ’n beskrywing van die familie en genus waaronder dit geklassifiseer word.
Daarna word inligting gegee oor die spesie, die volksname, bewaringstatus, bedreigings, blomtyd, blom-kleur(e), habitat en gebied waar dit voorkom, die eti-mologie (waar die Latynse naam vandaan kom) en die ekologie (bestuiwers en interaksie met ander spesies).
Elke spesie word deur vier foto’s uit verskillende hoeke geïllustreer.
Die navorsing en ontwikkeling van die teks word deur Thea Brink, Leon Louw en Paul Coetzee gedoen en die foto’s kom uit die versamelings wat Vic en Magriet Brink oor die afgelope tien jaar opgebou het. Die ontwerp en uitleg van die webwerf is deur LoveGreen gedoen.
Foto’s en inligting van die Proteaceae-familie (9 genera, 39 spesies, 156 foto’s) en die Ericaceae-familie (67 spesies, 268 foto’s) is reeds opgelaai, en die foto’s en inligting van die Iridaceae-familie (16 genera, 85 spesies, 340 foto’s) is byna gereed om bygevoeg te word.
Die teks vir beide die Orchidaceae– en die Bruniaceae- families (saam 16 genera, 83 spesies, 332 foto’s) is ontwikkel en die foto’s sal binnekort gesoek en geredigeer word.
Dit is ’n groot werk en aangesien dit deur vrywilligers gedoen word, kan dit ongelukkig nie so vinnig as wat mens sou wou, klaargemaak word nie.
Dit is vanjaar die vyftigste bestaansjaar van die Kleinmond Natuurbewaringsvereniging en die plan is om die webwerf in die tweede helfte van die jaar as deel van die feesvieringe aan die publiek bekend te stel. Vic Brink