KLEINMOND – Alet Coetzee het pas die bestuur by die Fietspark oorgeneem en sy het sommer groot planne om by die park ‘n kafeteria te bedryf waar die gemeenskap bymekaar kan kom om op die dek te kuier en die uitsig oor die see en die berge te geniet.

“Ek het die besige liggies van Johannesburg agtergelaat vir die rustige atmosfeer van Kleinmond. Hier het ek by fietsryers van die pragtige fietspark gehoor en besluit dat ek hierdie gemeen-skapsjuweel tot sy volle potensiaal wil uitbou – nie net vir fietsryers nie, maar vir almal,” sê sy.

“Die klem val op ‘n gesonde leefstyl. Vriende kan me-kaar hier ontmoet om ‘n verkwikkende  smoothie of ‘n heerlike glas wortel- of ander vars sap te geniet. Stappers en fietsryers kan met ‘n Energade en ‘n piesang hul kragte hier kom herlaai. Anders kan jy en jou vriende of vriendinne hier inloer vir ‘n vinnige koppie koffie en ‘n gesonde braaibroodjie.”

Alet is baie opgewonde om die park ook “‘n kinder-paradys met wiele” te maak, met opwindende en kreatiewe kinderpartytjies. Kinders kan hul eie fietse bring, of van die fietspark se fietse huur en daarop rondjakker, terwyl die ma’s lekker onder sambrele op die dek saamkuier. Dit hoef ook nie by kinderpartytjies te bly nie. Alet kan regstaan vir enige viering – selfs ‘n elegante High Tea.

“Dan beplan ek ‘n reeks spesiale tema-dae waar die gemeenskap saam kan kuier en aan heerlike kos kan smul. Die eerste is ‘n Duitse Feesdag op 15 Maart. Daar sal tradisionele Duitse lekkernye bedien word soos Brötchen met Knackwurst, Schnitzel of dalk vir die meer avontuurlustiges ‘n skeppie Rohhack. ‘n Volgende keer kan dit ‘n Italiaanse dag wees, of ‘n Portugese dag. Die spreiligte op die fietsbaan maak dit selfs gerieflik vir skemerkelk- of aandpartytjies.”

Die Fietspark en sy kafeteria het nou nuwe bedryfsure:

Maandag, Woensdag, Vrydag en Saterdag: 08:00 – 16:00

Donderdag: 08h00 – 12h00

Sondag: 09:00 – 14:00

Dinsdag:  Gesluit.

Fietsryers kan gedurende hierdie tye jaar- en tydelike permitte koop om die omgewing se bergpaadjies of die hindernisbaan aan te durf. Verder is daar ‘n voorraad nuwe en goeie tweedehandse fietsryklere teen baie billike pryse beskikbaar.

Daar word ook beplan om ‘n klein voorraad fietstoebehore aan te hou.

Vir besprekings of navrae kontak Alet by 064 057 2978.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *