
KLEINMOND- ‘n Handvol kruiskuns-vroue, soos hulle hulself noem, het onder leiding van Arina Greeff met ‘n verfkwas in die hand die voortou geneem om die dekor vir die Paasspel, Jerusalem!, Jerusalem! te maak. Arina het in die verlede al vele Paasspelproduksies gelei. Die dekor gaan die stad Jerusalem verbeeld vir die opvoering wat op 10, 11 en 13 April in die NG Kerk gaan plaasvind.
“Ek het elemente van Jerusalem 2000 jaar gelede met houtskool geskets. Daarna het ons die kleur burnt umber gevat en dit met lynolie gemeng sodat dit geskakeer kan word. Ons werk net in bruine in olieverf. Ons wil die stowwerigheid en die kleurloosheid van die agtergrond uitbeeld. Die skilderdoek is met wit akrielverf voorberei,” vertel Mariëtte van Velden.
Daar is kunstenaars wat meer op die straattonele van Jerusalem fokus, vir die dekor wat teen die galery se muur opgesit gaan word.
“Daar is ook ‘n groot skildery van die kruisiging waaraan ek werk. Hier gaan ons meer in kleur werk om die elemente voor te stel : die wind, die weer, die reën en donkerte wat getuig het van Hom,” vertel Mariëtte.
Sy voel geroepe om Christelike werke te skilder. Sy het vantevore die CSV se materiaal geïllustreer en is tans besig met ‘n besonderse projek vir Christian Media Publishers. Dié projek is ‘n Internasionale familiebybel waar 120 hoofstories uit die Woord geskilder word.




