KLEINMOND – Mnr Cobus Bezuidenhout was die Laerskool se skoolhoof vanaf 1 Januarie 1997. In Maart 2001 is hy deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement as projekbestuurder van Khanya gesekondeer, waarna mnr Gys Huisamen as hoof by die Laerskool oorgeneem het.

Khanya beteken lig. Dit was die naam van die projek waardeur rekenaarlokale by skole gevestig is. Laerskool Kleinmond was dan ook een van die eerste skole in die provinsie was wat so ‘n lokaal gekry het, en dra die naam: Cobus Bezuidenhout Lokaal. Die sentrum en sy tegnologie  is sedertdien al vier maal opgegradeer.

Cobus se vrou, Suelene, het aan die Herald vertel dat haar man ‘n visioenêr was. In die vier jaar wat hy hoof was, het hy onder andere hard gewerk om die leerdertal te verhoog. Toe hy begin het was hier 95 leerlinge en toe hy klaargemaak het 189. Dit is ook Cobus wat al die klein skooltjies in die omgewing saamgetrek het om die Berg-en-See atletiekdae te hou.

“Die skoolgemeenskap op Kleinmond was van die begin af so meelewend. Ek was op my laaste met Janus se swangerskap. Almal het gewonder of dit ‘n seun of ‘n dogter sou wees. Suemari was toe drie jaar oud. Cobus het op 1 Januarie hier begin en Janus is op 27 Januarie gebore. Toe Cobus na die bevalling by die skool kom, het die sekretaresse ‘n groot banier daar gespan met die woorde: Dis ‘n seun!”

‘n Familiefoto van die Bezuidenhouts .

Vir Khanya moes Cobus baie rondreis om skole te besoek. Op 7 November 2003 was hy in ‘n noodlottige ongeluk by die afdraai na De Rust Ventura skool. Suemari was toe 9 en Janus 6.

In 2012 is Gys Huisamen se vrou, Marzan aan kanker oorlede. Hy het op ‘n stadium vir Suelene gevra hoe sy haar verlies by die dood van Cobus verwerk het. Hulle was heeltyd kollegas, maar nou het hulle goeie vriende geword wat oor en weer kos gemaak en beurte gemaak het om bymekaar te eet.

“Ons is op die ou end getroud. Ek weet nie of ek die enigste vrou in die land is wat met twee skoolhoofde van dieselfde skool getrou het nie,” lag sy.

Suelene was eers musiekonderwyser by die skool. Later het sy die graad 4-klas behartig en in 2020 het sy Wiskunde adviseur vir graad 4-7 geword. Sy het verlede jaar afgetree.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *