KLEINMOND – Mnr JJ Raats was die tweede skoolhoof van Laerskool Kleinmond – van Junie 1968 tot Junie 1974. Volgens inwoners was hy en sy vrou, Rika, baie geliefd op die dorp. Hy het van ‘n plaasskool op Wakkerstroom, tussen Bonnievale en Robertson, die pos as hoof hier aanvaar.

“Ons het op Kleinmond aangekom toe ek so een jaar oud was. My broer, Bruwer, is hier gebore en gedoop – deur ‘n familielid, ds AD Raats. Ek het hier begin skoolgaan. My ma het ‘n crèche in die stadsaal begin en later het sy by Laerskool Caledon skoolgehou,” vertel Jasper, die egpaar se oudste seun.

“My pa was in wese ‘n opvoedkundige entrepreneur wat baie verbeteringe by die skool aangebring het. Toe die getalle so erg begin daal dat die skool dalk sou moes sluit, het Pa sy pride and joy, sy Mercedes, verkoop en ‘n Volkswagen kombi gekoop sodat hy kinders van die buitewyke van die dorp af kon aanry.

“Op dié manier het die skool begin floreer. Pa het ‘n tender vir skoolvervoer by die Departement ingesit en net drie jaar later kon hy weer ‘n Mercedes koop: ‘n 230! Kontant uit die boks vir R5000.

Mnr Raats, sy vrou Rika, Jasper en Bruwer toe hulle op Kleinmond gewoon het.

“My  lekkerste uitstappie van elke dag was om soggens en smiddae saam met hom die roete te ry – eers oos tot waar Salandra nou is en dan weer wes tot by Rooiels. Botrivier het sy eie skool gehad, so ons kon nie in hulle area inbeweeg nie.”

Jasper sê sy pa het landboutuine op die skoolgrond aangelê en gesorg dat Landbou as vak hier aangebied word. Hy het op ‘n plaas grootgeword en het in sy hart maar ‘n boer gebly. Onder sy leiding is ‘n rugbyveld, netbalbane en ‘n klei-atletiekbaan van 200 meter aangelê. “Ek onthou nog hoe ek as jong kannetjie op die trekker gery het waar die grond gelyk geskraap is. Toe kon die kinders van Standerd drie tot vyf aan atletiek, rugby en netbal begin deelneem.

“My ouers was dol op watersport. Ma het in Knysna grootgeword, waar waterski ‘n groot ding was. Ons het elke Desember daar gaan vakansie hou. Toe begin Pa die Kleinmond Waterskiklub hier langs die Palmietrivier, met ‘n sleephelling vir die bote en braaiplekke. Daar is groot watersport-dae gehou. Dr Chris Barnard se dogter, Deirdré het self ook hier kom deelneem. Sy het Springbokkleure in die sport verwerf.

Die 1973 rugbyspan.

“Nog ‘n lekkerte vir my was dat ek  in die personeelkamer na skool kon gaan tee kry – nogal met kondensmelk!” lag Jasper.

“My pa het my vertel sy grootste verleentheid by hierdie skool was die dag van die padda in sy skoen.

Hy het vir een of ander rede sy skoene en die lang kouse wat hy by sy safaripak gedra het, uitgetrek en dit met die kouse daarin langs die veld gelos. Taak afgehandel, steek hy sy voet in sy skoen…maar ‘n paar belhamels het ‘n padda onder die kous weggesteek! Daardie gil het die kranse laat antwoord gee. Die kinders het in alle rigtings laat spat. Niemand het die kwaaijongens blykbaar gesien nie en dié wat geweet het, het niks gesê nie.”

Die 1973 netbalspan voor die rooi kombi.

Jasper en Bruwer, wat sy ma se van as naam gekry het, is in die wynbedryf: Jasper by Longridge Wynlandgoed, wat in vennootskap met Nederlanders bedryf word en Bruwer saam met ‘n neef by Raats Familiewyn.

Drieka Raats se kleuterskoolklas.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *