
KLEINMOND – Mnr Gys Huisamen was tussen 2001 en 2021 skoolhoof by die laerskool. Hy het in 2000 die pos as departementshoof hier aanvaar nadat hy vir 15 jaar in Namakwaland skoolgehou het en in Alexanderbaai skoolhoof was.
“Ek en my voorganger op Kleinmond, Cobus Bezuidenhout was lankal vriende. Hy het al in 1997 vir my gesê: ‘Jy kom Kleinmond toe. Dit staan in die Bybel.’ Toe ek die teks in Jesaja 60:8-9 gaan lees: …wat kom hier aangesweef soos wolke, soos duiwe na hul neste toe… het ek geweet ek sou moes gaan,” vertel Gys. “Cobus het die visie vir Kleinmond Laerskool gehad. Ek het dit net verder gevat.”
Onder Gys se leierskap en met die dryfkrag van beheerraadslede soos Stephen Hansen en Jacques Oosthuizen is baie uitbreidings by die skool aangedurf, waarvan die belangrikste seker die bou van die skoolsaal was.
“Ek wou ‘n lapa by die sportgronde bou. Toe vra my twee onderwyseresse Ester Groenewald en Suelene Bezuidenhout hoekom ons nie liewer die geld vir ‘n saal kan gebruik nie. En daar staan die pragstuk – nogal met my naam wat op die fassade pryk. Maar dit het harde werk van die personeel gekos en mannemoed van die beheerraad om tot daar te kom.”
Ander verbeterings wat in Gys se tyd aangebring is, is tien ekstra klasse, ‘n skoolbus, garages, die rugby- en krieketvelde, ‘n boorgat om die sportgronde in stand te hou, heinings wat verbeter is en meer.

“Om die rekenaarsentrum wat Cobus by Khanya vir ons kon reël, gevestig te kry, was ‘n uitdaging. In Desember 2002 het ons die dagkampe in die dorp se hekke beman en aan die einde van die vakansie het ons R20 000 in die bank gehad.
“Die veiligheidskameras was ook ‘n storie. Die onderwysers was sterk gekant teen kameras in elke klas. Hulle het seker gevoel daar sal op hulle gespioeneer word. Op die ou end het hulle saamgestem dat dit eintlik vir hul eie beskerming kon dien – veral as ouers kom kla oor stories wat ‘n kind by die huis aangedra het. Knelpunte soos diefstal in die klasse kon dadelik opgelos word en die kwessie van kinders wat geboelie word is gou met bewyse uitgesorteer.”
Dis ‘n belewenis om Gys se vertellings aan te hoor. Hy kan nie net sit en vertel nie. Hy staan op en beduie met kleur en geur. Veral van die klein leerdertjies wat kantoor toe gestuur is. “Man, die outjie kan skaars oor my lessenaar kyk, dan staan hy daar met sy groot oë. Dan vat ek hom personeelkamer toe, skink vir ons altwee ‘n lekker koppie tee en dan kom sit ons in my kantoor en praat die sakie uit. Een van hulle is kantoor toe gestuur omdat hy ‘n vloekwoord saam met my naam gebruik het. Hy wou nie die woord weer herhaal nie, maar ek het dit eindelik uit hom uitgetrek gekry. ‘En waar kry jy sulke lelike woorde?’ vra ek. ‘Van die duiwel af, Meneer,’ sê hy so tussen die snuiwe en snikke deur. Ons is tot vandag toe nog groot vriende.”

Hy vertel van die molle wat die rugbyveld so omgedolwe het. Die kinders sit in die klas en as hulle ‘n hopie sien uitstoot, skreeu een net MOLLE! en daar hol die hele lot uit om ‘n tuinslang in die gat te gaan druk. So is die molle eindelik uitgespoel. “Dit was ‘n toestand met die molle, man – ‘n kind kan ‘n enkel in so ‘n gat breek!”
Projekte wat Gys by die skool begin het wat hom baie vreugde gegee het, was die Eko-projek waarvoor hulle platinumstatus gekry het, die uitreikprojek na KAWS en die skaakklub waarvoor hulle borge vir die groot stel gekry het waarmee die leerders steeds op die binneplein kan speel.

“As ek my lewe kan oor hê, sal ek weer gaan skoolhou. Dit was 5% moeilikheid maar 95% vreugde. Dan is daar die aartsengele wat my hande hoog gehou het: Annemarie du Preez wat al vir 24 jaar die skool se finansies hanteer. Ook elke onderwyser en beheerraadslid wat oor my pad gekom het. Dis egter nou lekker om afgetree te wees. Ek het pas op my eentjie die hele Weskus langs gaan toer. ‘n Mens se tyd is nou jou eie,” glimlag hy.
