
Toe ek in die vroeë tagtigerjare internasionale politiek studeer het, het ons ‘n professor gehad wat alles deur die bril van die tweede wêreldoorlog en die uiteinde daarvan gesien het. Hy was al in sy sewentigs. Ek, as 21-jarige, het natuurlik beter geweet en hom eendag beskryf as ‘n voor-oorlogse man in ‘n na-oorlogse wêreld. Ek het gedink dit is vreeslik slim. Nou weet ek hoe hy gevoel het. Ek verstaan g’n niks meer van die wereld nie.
Ek vermoed die geskiedenis gaan oor vyftig jaar terugkyk en bevind dat Donald Trump en sy kornuite net soos die tweede wêreldoorlog ‘n nuwe wêreldorde te weeg gebring het. Of dit ‘n beter een gaan wees, betwyfel ek sterk. Hy praat soos ‘n keiser en tree soos een op. Sy blote woorde stuur skokgolwe deur die wêreld. My vyf-en-sestig jaar in hierdie wêreld het my geleer sulke mense het gewoonlik nie brieke nie. Hoe meer mag en invloed hulle kry, hoe meer wil hulle hê. Erens in die wêreld betaal gewone mense die prys hiervoor. Ek dink Trump gaan ons reeds gevaarlike wêreld in nog ‘n gevaarliker plek omskep.
O, maak geen fout, daar is beslis van die dinge wat hy kwytraak en doen wat by my aanklank vind en selfs vir my sin maak, maar ek besef dit is gewoonlik net die helfte van die waarheid. Komplekse probleme verg gewoonlik komplekse antwoorde, nie een-sin oplossings nie. Die mensdom is ook nie ‘n sameflansing van ‘n aantal saketransaksies nie.
Ek raak bekommerd as ek sien wat mense alles kwyt raak na aanleiding van Trump se uitsprake. Trump gaan nie ons probleme oplos nie, net so min as wat die ANC en hul meelopers dit gaan doen. Ons moet dit self doen. Die gesprek moet hier op ons dorp begin. Ons behoort self te besluit watter toekoms ons wil bou en ons eie sosiale kompak te sluit. Tans praat niemand met niemand nie – en ons verwag ‘n goeie uitkoms?
Nodeloos om te sê, sal ek nie een van die Afrikaners wees wat aansoek doen om vlugtelingstatus in Amerika nie, in elk geval nog nie. Ek hou van ons matige klimaat hier in Kleinmond en ek is te oud om te gaan vloere was in die een of ander Amerikaanse deelstaat. redakteur@overstrandherald.co.za
,
- Tags:
- Overstrand Herald
- Trump