KLEINMOND – Daar is nou ‘n meesterplan vir Kleinmond se rugbyveld en die veld sal na afloop van die huidige seisoen heeltemal oorgebou word. Dit sluit in behoorlike dreinering, nuwe gras en besproeiing. So het die munisipaliteit se Dennis Hendriks Maandag hier tydens ‘n vergadering tussen die munisipaliteit en die rugbyklub se bestuur gesê. Hendriks is die senior bestuurder wat onder meer vir munisipale sportvelde verantwoordelik is.

Dinge tussen die klubbestuur en die munisipaliteit was die afgelope tyd krapperig na die beloofde herstelwerk aan die veld, wat al jare sloer, aan die einde van verlede jaar weer eens uitgestel is. Intussen oefen die rugbyspanne op die strand en munisipale werkers probeer hul bes om die veld betyds herstel te kry vir die seisoen wat volgende naweek in alle erns afskop met ‘n tuiswedstryd teen Bredasdorp se Rangers.

Die veld is nog nie reg nie, maar daar is by die vergadering besluit dat daar nou op die veld geoefen mag word en dat wedstryde daar sal voortgaan.

Hendriks het Maandag aan die klubbestuur verduidelik dat die verbeteringe aan die rugbyveld en die omliggende sportgeriewe nou deel vorm van ‘n groter meesterplan wat oor die volgende paar jaar uitgerol sal word. Hendriks het verduidelik dat die geld vir die projekte hoofsaaklik vanaf die sg. MIG (Municipal Infrastructure Grant) fonds afkomstig is. Dit beteken dat die staat gewoonlik sowat 60% van die geld gee terwyl daar van die munisipaliteit verwag word om die orige 40% by te dra. Die munisipaliteit het reeds R2m opsygesit vir die projek, maar sal nog geld moet begroot, het hy gesê.

Volgens Hendriks is daar reeds aansoek gedoen vir die MIG-befondsing om die rugbyveld self op te gradeer en is hy vol moed dat die geld wel beskikbaar gemaak sal word. Hy verwag dat die projek in Maart aan keuring onderwerp sal word en as alles volgens plan verloop behoort die tender teen September toegeken te wees. Die rugbybestuur het tydens die vergadering gevra dat spesialiste vir dié werk aangestel word.

Hendriks het gesê intussen gaan ander werk op die terrein voort. Hulle beoog om volgende week reeds te begin met die grawe van die fondamente vir die nuwe spreiligte waarvoor daar reeds sowat R2.1m toegeken is.

Hy het gesê onder die ander projekte waarna hulle kyk is om die grensmuur van die veld sowat 10m nader aan Hoofweg te skuif. Dit sal beduidende nuwe ruimte skep maar baie duur wees. Volgens hom het hulle gekyk na die moontlikheid om twee rugbyvelde op die bestaande grond te ontwikkel, maar dit is doodgewoon nie moontlik ingevolge Boland rugby-unie se reëls nie.

Hendriks het gesê daar moet aanvaar word dat daar altyd ‘n probleem sal wees met net die een veld op die dorp. Daar is drie dorpspanne wat elke tweede Saterdag op die veld speel en dan word daar nog geoenfen op die veld ook. Die ideaal sou wees dat daar oor die langer termyn gekyk word na die ontwikkeling van nog sportgeriewe. Raadslid Grant Cohen het hierop gesê dat daar voorlopige planne is om moontlik nog sportgeriewe in die omgewing van die gholfbaan te ontwikkel.

Hendriks het gesê hulle kyk ook na die herontwikkeling van die netbalbane en klubhuis by die sportgronde, die hele kwessie van parkering en stormwater. Verskeie bestuurslede het daarop gewys dat die bestaande grensmuur aan Hoofweg se kant ‘n beduidende veiligheidsrisiko inhou. Hulle het gevra dat wetstoepassers en die polisie asb moet help om mense wat oor die muur leun en klim te verjaag.

Die waarnemende voorsitter van die klub, Willie August het gevra dat die munisipaliteit bykomende toiletgeriewe tydens wedstryde beskikbaar stel aangesien die bestaande geriewe heeltemal ontoereikend is. Daar gaan ook gekyk word daarna om die bestaande rioolpype te verskuif in ‘n poging om die probleme by die toilette op te los.

Die rugbyklub het ook gevra dat daar ‘n munisipale amptenaar aangewys word wat spesifiek vir die rugbyveld verantwoordelik is. Die munisipaliteit het aangedui dat hulle die versoek sal oorweeg.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *