
BETTYSBAAI – Wat romantiek en simboliek betref, kon daar nie ‘n beter verrassingsfaktor verlede Saterdag hier vir San-Mari de Reuck by haar kombuistee gewees het nie as die skotskarretjie en twee opregte boerperde gewees het. Die pretritte wat sy en haar gaste op die gruispaaie langs die see gehad het, het boonop die kroon gespan.
Haar pa, Paul de Reuck, sê die perde en waentjie is deur Johan Bester van Ceres gebring. Dié wêreld is danksy toegewyde telers en uitstekende klimaat die bakermat van die Boerperd, wat as ‘n unieke Suid-Afrikaanse perderas beskou word.
Sy vriend, Charl van Sittert, het al die reëlings getref en die perde en karretjie oor die naweek by hom gehuisves. Teen Sondagaand was hulle weer veilig terug in die Witzenberg-distrik.
San-Mari tree op Saterdag 22 Maart in die huwelik met Gerrit Gerber. Simbolies het die perdekarrit haar reis na ‘n nuwe hoofstuk in haar lewe ingelui, na die groot moontlikhede en avonture wat vir die bruid en bruidegom voorlê.
