May 1, 2020

Daar is 'n storie wat dikwels oorvertel word in my vrou, Ilna, se familie. Dit verloop min of meer so: Haar pa hulle het 'n huis in Links in Somerset Wes gehad met 'n pragtige see uitsig en 'n lekker groot stoep waar jy kon sit en die uitsig geniet. Dit het meegebring dat daar veral tydens vakansies baie familie kom kuier het. Soms was dit familie wat 'n mens eerder sonder sou kon doen. Jy weet wat ek bedoel? So gebeur dit dat daar eendag 'n spannetjie opdaag wat my skoonpa van geweet het, maar 'n leeftyd terug enige kontak mee gehad het. Ma en pa met kindertjies agterna. Gou is die spulletjie baie gerieflik en die kuiertjie rek uit. Hulle slaap oor. Een nag word drie en vier en hulle kuier lekker man. Teen die derde oggend bak Ilna se ma eiers vir ontbyt en die een seuntjie haak af en sê: "Ag nie weer ou eiers nie."

Nou na vyf weke se lockdown voel ek bietjie soos daai outjie. Die keuse in die yskas raak al meer beperk, maar belangrik, daar is nog keuses en daarvoor is ek dankbaar. Baie daar buite het hierdie voorreg nie. Ek lees op die BBC se webtuiste van 'n alleen ma in Kenia wat nie meer kos vir haar kinders gehad het nie. Sy sit toe klippe in 'n pot en kook dit in die hoop dat die klein kindertjies sal glo dit is kos en aan die slaap raak. Dit is vreeslik as 'n mens daaraan dink. 'n Buurvrou het gelukkig agtergekom wat aangaan en ingegryp en hulle het nou kos.

Ek lees op sosiale media daar is mense wat nou sê ons moet op grond van ons regering se swakhede en deurmekaar besluite ophou gee vir liefdadigheid. Ek persoonlik sal aanhou gee, terwyl ek het om te gee. Ek sal nie kan gaan slaap as ek weet daar is kinders in Kleinmond wat honger ly nie. Ek kan nie oral help nie, maar ek kan op my eie dorp en in my onmiddellike omgewing. Dit help nie om gewone mense die skuld te gee vir die regering se onvermoë en dwaasheid nie. Daar is ander maniere om dit aan te spreek. Kom ons hou aan om ons medemens te help.

Phone:
(27) 0282714212
Address:
17 A 14th street, Kleinmond, South Africa 7195
Hours:
Monday - Wednesday: 8:00 am - 1:00 pm, 2:00 pm - 5:00 pm Thursday - Friday: 8:00 am - 1:00 pm
Turn your Facebook Page into a website, instantly.

Try now for 14 days FREE

No credit card required, unsubscribe at any time. pagevamp.com