Jul 24, 2020

Redaksioneel

Ek moes die afgelope paar dae toekyk hoe gewone mense strate toe gaan en protestogte hou in 'n poging om die regering te laat afwyk van hul verwoestende beleid tov die restaurant- en gasvryheidsbedryf. Ek het eers uit Hermanus en toe Gansbaai verslag gedoen vir Regio TV. Mense is werklik desperaat. Hulle verloor hul werk en kan nie meer vir hul gesinne sorg nie. Hierdie desperaatheid gaan toeneem in die volgende dae en weke en waarskynlik manifesteer in geweld. Die polisie besef dit en wil daarom vroeg al wys dat hulle nie hierdie soort openbare teenstand teen regeringsbesluite sal duld nie. Vandaar waarskynlik die polisie se oordadige en onnodige gebruik van geweld teen wat in wese skynbaar 'n vreedsame betoging in Kaapstad was. As hierdie optrede van die polisie gaan voortduur gaan gewone mense hul rug op die polisie draai. Hulle moet dit weet.

Ek moet die polisie op Gansbaai aanprys vir die wyse waarop hulle die vreedsame optog vandag (Vrydag 24 Julie 2020) hanteer het. Hulle was opsigtelik, maar het geensins probeer inmeng nie. Baie anders as die sirkus op Hermanus Woensdag.

Intussen gaan die rol van munisipale wetstoepassers in hierdie proses toenemend bevraagteken word. Is hulle daar om die staat se dikwels onredelike en irrasionele besluite af te dwing of dien hul die gemeenskappe waar hulle woon en werk? Is dit ons munisipaliteit se taak om vreedsame protesoptogte van mense wat nie meer 'n bestaan kan maak uit een te jaag? Op sigarette beslag te le soos wat die afgelope week in Kleinmond gebeur het ..... of is munisipale wetstoepassers daar om misdaad te bekamp en inwoners te beveilig? Ons politieke heersers op munisipale vlak gaan hul hierdie vraag moet afvra, want gewone mense in die Overstrand sien die munisipale wetstoepassers toenemend as 'n blote verlengstuk van die polisie/staat. Dit, terwyl die polisie soos tydens vandag se voorvalle in Kaapstad, hom vervreem van die burgery wat hy veronderstel is om te dien. Gerard Grobler. redakteur@overstrandherald.co.za

Phone:
(27) 0282714212
Address:
17 A 14th street, Kleinmond, South Africa 7195
Hours:
Monday - Wednesday: 8:00 am - 1:00 pm, 2:00 pm - 5:00 pm Thursday - Friday: 8:00 am - 1:00 pm
Turn your Facebook Page into a website, instantly.

Try now for 14 days FREE

No credit card required, unsubscribe at any time. pagevamp.com