KLEINMOND – Die planne om Kleinmond se Strandfront te ontwikkel en die toerismeburo te verskuif na waar die verkeersafdeling tans hul kantore het, gaan weer afgestof word. Dié planne is ‘n paar jaar terug al gemaak, maar toe op die langebaan geskuif. Daar is selfs sowat ‘n half miljoen rand deur die munisipaliteit spandeer om planne op te trek oor hoe die Strandfront met die nabygeleë sakegebied en ander geriewe geintegreer kon word.

By Donderdag se wykskomitee vergadering het beide die plaaslike raadslede, Grant Cohen en Stephen Williams gesê hulle wil dié planne weer bekyk. Wykskomiteelede het gesê dit is veral belangrik dat die toerismeburo na die meer opsigtelike kantore van die verkeersafdeling digby die Hoofstrand verskuif word. Die gedagte is dat die verkeersafdeling dan na die munisipale werksplaas verskuif.

Volgens raadslid Williams word daar ook weer gekyk na die moontlikhede rondom die stuk grond in die hawe wat die gemeenskap destyds as deel van die hawe-ontwikkeling ontvang het. Die burgemeester, dr. Annelie Rabie het tydens Woensdag se raadsvergadering op Hermanus gesê dit is hoog tyd dat die kwessie van die gemeenskap se grond in die hawe uitgesorteer word. Sy het gesê sy hoop die twee Kleinmond raadslede sal leiding  gee om te help dat die gemeenskap ‘n regsentiteit vorm om die projek uiteindelik te laat realiseer.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *