KLEINMOND – Die bestuur van die Senior Burger-klub moes net aanhou stoele indra vir die groot opkoms by Donderdag 6 Maart se vergadering. Die spreker: dr Leon Siecker van die nuwe Noodsentrum, Kleinmond Urgent Care. Dis die eerste keer dat so ‘n noodsaaklikheid hier plaaslik tot stand gebring is.

Dr Siecker het op Stellenbosch studeer en toe vir baie lank in Afrika gewerk. “Ek is van kleins af lief daarvoor om oplossings vir probleme te soek. Met my skuif hierheen het ek gou die gebrek aan toegang tot plaaslike noodsorg raakgesien. Ek is baie ingestel op noodsorg nadat ek self nie so lank gelede deur duiseligheid oorval is. Ek het op die bed gaan lê en gedink: hier kan ek vandag doodgaan. Toe ry ek na een van die dokters in Kleinmond waar ‘n ambulans my Hermanus toe geneem het,” vertel hy.

Weer op die been, het hy dadelik met die ambulansdiens in Hermanus begin onderhandel om hier ‘n depot oop te maak. “Dis oneties as mense ledegeld vir ‘n instansie moet betaal en dan daag die ambulans op as dit te laat is, omdat hy te vêr moet ry. ‘n Ambulans moet hier wees – dadelik!

“Toe begin ek uitkyk vir ander dokters sodat ons om die beurt 24 uur op roep kan wees om noodsituasies te hanteer. Dr Karen Wiid en dr Tim Nunn het ingeskakel. Die volgende uitdaging was ‘n  geskikte lokaal, en die plek in Haweweg het leeg gestaan. So het ons aan die werk gespring. Daar moes mediese toerusting wees en ‘n ondersoekbed wat gemaklik is vir die dokter om vinnig te kan optree. Ons het die sentrum verlede jaar in November oopmaak, en daar sal mettertyd ‘n steeds wyer reeks versorging beskikbaar wees. Intussen is ons besig om ‘n selfoontoepassing te ontwikkel dat mense self afsprake by die sentrum kan maak sonder om te bel.

“Kleinmond se mense is ongelooflik! Hulle stap net daar in en laat ons welkom voel. Maar ons wil graag hoor wat die inwoners nodig het,” sluit hy sy praatjie af.

Hierop het die Seniors hulle nie laat wag nie en vir dr Siecker met vrae gepeper. Hy het voorgestel dat mense maar eers die noodnommer skakel en nie net opdaag nie, want hoewel daar 24 uur ‘n dokter aan diens is, is daar nie altyd iemand by die sentrum nie. In werklike noodgevalle soos ‘n beroerte of hartaanval is dit beter om dadelik die ambulansdiens te skakel. Dis ook beter as jy ‘n harttoestand het, om ‘n Kardioloog in Somerset-Wes of Kaapstad te kry, waar daar ‘n wye keuse vir elke toestand is.

Hy noem die simptome vir beroerte:

jy is so duiselig dat jy nie kan staan nie;

jy val net om;

jou een kant is lam  en

jy praat snaaks

Tyd is van kardinale belang by beroerte. Hoewel dokters sê jy moet binne vier en ‘n half uur behandeling kry, moet jy bewus wees dat elke minuut tel. Dus, hoe gouer jy mediese hulp kry, hoe beter.

Die sentrum se noodnommer is 021 770 0053. Memoriseer dit sommer nou.

Dr Siecker, voorsitter Ninnie du Toit en Willie Groenewald wat die bedanking gedoen het.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *