
KLEINMOND – Die Kerksaal in Eerstelaan was ‘n (rooi)miernes van bedrywighede op Dinsdagmiddag, 25 Februarie. Die dames van die Gesondheidsportefeulje van Kleinmond-VLV het ‘n boeiende vergadering aangebied met spatsels rooi om die liefdesmaand mee af te sluit.
Voordat die vergadering begin het, het Karlien Venter en haar span van Albertyn-apteek saam met ‘n gekwalifiseerde VLV-lid komplimentêre bloeddruk- en bloedsuiker-toetse aangebied. Hierdie diens is met entoesiastiese deelname ontvang, en belangstellendes het geduldig gewag vir vriendelike en professionele hulp.
Die gaskunstenaars, Arina Greeff en Thinus Ries, het gesorg dat die middag uit die staanspoor op ‘n vrolike noot begin. Arina het die gehoor gevange gehou met haar spontane energie en dramatiese interpretasie en vertolking van “versies” uit haar ma se geskrifte. Met ‘n verrassende metamorfose het sy van ‘n dame in ‘n grys jas in ‘n lewendige, rooi skoenlapper verander: kompleet met ‘n bypassende rooi hoed, rooi serp en die mooiste rooi skoene. Arina is ‘n boeiende storieverteller en het die gehoor laat skater met haar fassinerende staaltjies. Die hoogtepunt van haar optrede was die spontane saamsing-en-dans terwyl Thinus Ries haar op klavier begelei het – die perfekte musikale agtergrond.
Karlien Venter van Albertyn Apteek was die eerste spreker oor gesondheid. Sy het navorsing oor die Vitamien B12-inspuiting breedvoerig met die gehoor gedeel. In die verlede was die inspuiting sonder voorskrif beskikbaar. Die vereistes vir die inspuiting het verander en dis nou belangrik dat die pasiënt eers haar eie dokter raadpleeg vir bloedtoetse. Daarna sal die dokter ‘n voorskrif gee vir die behandeling van ‘n moontlike vitamientekort. Mense wat Vit B12 en ook Vit C-aanvullings gebruik, moet die twee vitamiene nie terselfdertyd drink nie maar ten minste twee ure uit mekaar, want Vitamien C keer Vitamien B12 se opname in die liggaam. Meer inligting is by jou dokter of apteker te kry.
Morné Basson van “The Best Health” in Haweweg, Kleinmond, die tweede spreker, het gesê “Gesondheid is my passie en my doelwit is om mense te inspireer om ‘n gesonde, gebalanseerde lewenstyl te handhaaf. Hiervan is ‘n mens se ingesteldheid (mindset) die belangrikste, met God as middelpunt, want jou liggaam is ‘n tempel van God,” sê hy.
Morné het beklemtoon dat ons moet let op die gevolge van ons keuses, veral dit wat ons gesondheid raak. Hy het die verskil tussen “oefening maak perfek” en “oefening maak permanent” verduidelik en beklemtoon. Hy het die belangrikheid van beide fisiese oefening en gebalanseerde gedagtes en gesprekke onderstreep. “Gaan dit net oor ons gesondheid of politiek, of reik ons uit na mense met gesprekke wat opbouend is?” Hierdie interessante en betekenisvolle gesprek kan verder met Morné gevoer word. Kontak hom by 072 726 9528.
Beide sprekers het waardevolle inligting met die VLV-lede gedeel, waaroor ons kan nadink om die betekenis daarvan vir ons persoonlik te bepaal. Die Gesondheidsportefeulje het vir ‘n verrykende middag, heerlike tee en ‘n bederfie gesorg.
Alice van Rooyen