
PROTEADORP – Voorbrand vir die herlewing van die Hangklip-Kleinmond Besigheidsforum word tans deur die tussentydse bestuurskomitee gedoen om te verseker dat die organisasie so verteenwoordigend as moontlik van die hele gebied na sy volgende algemene jaar vergadering gaan wees.
Volgens Deon Louw, tussen-tydse administrateur van die HKBF, word hierdie belangrike vergadering op Dinsdag 15 April 2025 om 17:30 in die Kleinmond-stadsaal gehou.
Om belangstelling daarvoor te wek, het die tussentydse bestuur verlede Woensdag (26 Februarie 2025) met gemeenskapsleiers en ander belangstellendes in die Proteadorp-gemeenskap-saal beraadslaag.
Daar was goeie belangstelling en onder die gemeenskap teenwoordiges was Frazer Barry, Steven Williams, Clement Makka, Mary Hull en Nydia Carelse.
Johan Badenhorst van Voetspore-faam was ook daar.
Die toerismebedryf was goed verteenwoordig, maar ook die belangstelling uit die vissersgemeenskap is deur Louw verwelkom.
Kobus Le Roux, die huidige voorsitter, het ‘n agtergrond oor die forum se geskiedenis gegee, Heide Behrens het oor die toekoms gepraat en Neelje du Plessis oor die voortgesette peiling wat tans onder sakelui gedoen word.
Louw het ‘n insiggewende gesprek gefasiliteer oor die behoeftes van die gemeenskap en wat die gemeenskap van ‘n forum verwag. Almal was dit eens dat dit ‘n stap in die regte rigting is.
Eerskomende Maandag (10 Maart 2025) word ‘n soortgelyke gesprek van 17:30 tot 19:30 in die Crassula-saal op Bettysbaai gevoer.