
KLEINMOND – Elke jaar kom vroue reg oor die wêreld bymekaar om saam te bid vir hulself en hul dierbares. Dit is ‘n byeenkoms van vriendskap, bedagsaamheid en toegeneëntheid.
Die byeenkoms was vanjaar in die VG Kerk in Kalkoentjie-straat, Proteadorp.
Die NG Kerk Kogelpark organiseer jaarliks die byeenkoms en roteer dit tussen die verskillende kerklike denominasies in Kleinmond.
Vanjaar was die byeenkoms deur vroue van die Cook Eilande in die Stille Oseaan gereël.
Hulle het die program saam-gestel en dit na verskillende vrouegroepe regoor die wêreld aangestuur.
Die tema vir vanjaar was: “U het my volmaak geskape”, volgens Psalm 139 in die Bybel. Die vroue kon hoor dat hulle volmaak na God se beeld geskape is. Hulle is ook herinner hoedat hulle met God se krag en sy vrede deur moeilike tye gekom het. Hulle is daarvan bewus gemaak dat God by hulle is en leiding gee vir elke dag se eise.
Die vroue van die Cook Eilande is vrolike, gesellige mense wat graag blomkranse maak. Die Kleinmonders het ook so gemaak en mekaar gegroet soos die Maori’s mekaar groet: “Kia orana!” Dan las hulle die volgende groetewense daarby: “Mag jy lank lewe!”; Mag jy goed leef; Mag jy soos die son skyn en Mag jy saam met die golwe dans!”
Die vroue het a capella in verskillende stemme saamgesing. Dit het mens hoendervleis gegee. Ons het ervaar dat ons ‘volmaak geskape’ is.
Sulke geleenthede soos die Wêreldbiddag bring vroue van alle etniese groepe by-mekaar en snoer hulle in eensgesindheid en posi-tiwiteit saam.
Marita Grobler
